Julie 2020
Foto: Karl Voigt

Wie dra die figuurlike broek in die regering? En wie het besluit wanneer ek skool toe mag gaan?

Hierdie vraag het weinige Dee-Effers waarskynlik voor Maart vanjaar slapelose nagte gegee, maar skielik sy verskyning gemaak nadat die volgende derduisendste regulasie bekendgemaak is. Is dit Minister Dlamini-Zuma, Minister Mkhize, President Ramaphosa of Debby Schäfer (elk geldige antwoorde op verskillende tye)?

Die vraag moet eerder wees: wie maak wanneer die besluite?

Nasionale Ramp vs ’n Nasionale Noodtoestand: wat is die verskil?

Tydens die staat van inperking, het talle mense foutief na die Nasionale Ramp wat op 15 Maart deur President Ramaphosa aangekondig is, as ’n nasionale noodtoestand (wat nog nie sedert die vorige bestel aan bewind was, ingestel is nie) verwys. Die vraag word dan natuurlik waarom?

Ingevolge die Wet op Rampbestuur van 2007, kan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (tans minister Dlamini-Zuma) ’n Nasionale Ramp aankondig wanneer onder meer die gesondheidstelsel van die land ernstig bedreig word (soos byvoorbeeld deur COVID-19). Hierna moet daar dan regulasies afgekondig word wat vir ’n tydperk inbraak maak op burgers se menseregte, soos uiteengesit in ons Grondwet.

In hierdie geval is daar wel ’n komitee geskep - die National Command Council - bestaande uit politici wat almal ‘n hoë rang beklee, sowel as wetenskaplikes en diegene wat private sakebelange verteenwoordig. Besluite rondom die risiko-aangepaste verslapping van maatreëls, sowel as die instel van verskillende vlakke, is deur hierdie groep geneem, maar minister Dlamini-Zuma het ingevolge die wet die meeste gesag.

Buiten dat die kriteria anders is vir die afkondiging van ‘n noodtoestand (dit het gewoonlik meer te make met sekuriteitsbedreigings), behels dit ook baie meer parlementêre oorsig as ’n Nasionale Ramp.

Wie maak besluite rakende skole?

Namate die land tussen verskillende vlakke beweeg het en maatreëls stadig maar seker begin verslap het, is die verskillende sektore in die land (byvoorbeeld die nywerheidsektor, die landboubedryf en die restaurantbedryf) geraadpleeg en oorweeg om hulle toe te laat om weer te begin produseer. Een van hierdie sektore is die onderwyssektor.

Nadat die Departement van Basiese Onderwys dus die groen lig gekry het om voort te gaan om stelselmatig onderrig te hervat, is daar op datums en sosiale distansiëringsmaatreëls besluit om skole weer te heropen.

Gevolglik is die besluit om te heropen eerstens deur die NCC bepaal, maar die datums, ensovoorts, word deur die Departement van Basiese Onderwys besluit.

Wat gebeur indien daar positiewe gevalle in die skool is?

Alhoewel die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ook individuele maatreëls kan instel en byvoorbeeld op opdrag van die nasionale regering moes verseker dat elke leerder twee maskers ontvang om by die skool te dra, swaai hulle nie die septer wanneer dit kom by die sluiting van skole nie.

Indien daar ‘n positiewe geval in die skool is (was), moet dit onmiddellik deur die skool gerapporteer word. Die onderwysdepartment sal dan ’n oorweging maak oor stappe vorentoe op grond van die skool se unieke omstandighede, sowel as die voorsorgmaatreëls wat vooraf deur die skool geïmplimenteer is.

Dit help dus nie om hare te kloof oor wie, wat, waar en wanneer nie. Hou die nuus dop en wees gerus: die skool, onder leiding van Meneer Conradie en sy weeklikse “bly positief - toets negatief!” in elke klas, sal verseker dat elke Dee-Effer so veilig moontlik weer onderrig in hulle eie bank kan ontvang, solank ons elkeen net ons kant bring.

Die skrywer
Ila Alberts
Ila is mal oor politieke grappe, Lachgummi’s en om vinnig klas toe te stap. Wanneer sy nie besig is om spelfoute vir die Herout reg te maak nie (wat sy baie geniet), kyk sy naaldwerkvideo’s op YouTube, lees nuus op Twitter en filosofeer oor oplossings vir sosiale en politieke ongeregtigheid in Suid-Afrika.
Ander artikels