Julie 2020
Foto: Verskaf deur Ben Wiese

Waterpokkies, pandemies en paniek

Die woord “pandemie” is afkomstig van die Griekse word pan (almal) en demos (mense) en verwys na ’n siekte wat wydverspreid oor die hele land/wêreld voorkom. Toe die Wêreldgesondheidsorganisasie uiteindelik hierdie berugte woord op die 11de Maart gebruik het om die Covid-19 virus mee te beskryf, het baie Suid-Afrikaaners ’n klompie grys hare bygekry.

Wees egter gerus (of nie), want Suid-Afrika het, net soos met baie ander dinge, ’n lang geskiedenis van pandemies. Toe die Nederlanders in 1652 hulself in die Kaap kom vestig het, het hulle nie net speserye saam met hulle gebring nie. Op 13 Februarie 1713 tref waterpokkies die skiereiland, nadat vuil linne afkomstig van ’n skip uit Indië hier afgelaai is. Die Cape Argus berig dat ongeveer ’n kwart van die kolonie se bevolking in die winter gesterf het. Die Khoisan se lot was egter veel erger: na raming is tot 90% van die bevolkingsgroep dood aan die virus teen 1714. (Standard Encyclopaedia of Southern Africa). Nog uitbrake sou volg in 1755, 1760, 1831 en 1840.

Die twintigste eeu begin met die Boereoorlog, gevolg deur die Eerste Wêreldoorlog (waarin ongeveer 12 000 Suid-Afrikaanse soldate gesneuwel het) en ’n enorme pandemie in 1918 om die ellende mee af te sluit. Volgens die CDC (Center for Disease Control and Prevention) het ongeveer 50 miljoen mense aan Spaanse griep (H1N1-virus) gesterf. Daar word beraam dat ongeveer 300 000 Suid-Afrikaners, ’n sesde van die land se bevolking op daardie stadium, hul lewens verloor het. Anders as Covid-19, wat hoofsaaklik ouer mense affekteer, was die grootste hoeveelheid van die Spaanse Griep se slagoffers jong, gesonde volwassenes.

Van daar af is ons gebombardeer met cholera-uitbrake, tuberkulose (geen van die laasgenoemde geld as pandemies nie, maar is steeds merkwaardig genoeg om te noem) en ’n AIDS-epidemie wat vandag 7.7 miljoen mense affekteer.

Die bogenoemde geskiedenisles hoef ons nie met vrees te vul nie; inteendeel, dit behoort ons verligting te bied. Die feit van die saak is ons huidige situasie kon baie, baie erger gewees het. Boonop het ons vandag toegang tot ’n reeks mediese behandelinge (soos antibiotika) wat ons kanse op die suksesvolle bestryding van baie van die sekondêre infeksies wat gepaard gaan met iets soos die Coronavirus drasties vergroot. Bly dus positief, jy leef immers nie in 1918 nie.

Ander artikels