Julie 2020
Foto: Kathlin van Niekerk

Wat? LEES my onderwysers?

Volgens die uitslae wat Neal Malan in die onlangse “Virtuele Wassebad” bekendgemaak het, loop DF se sosiale media-eerstespanne ver voor (en die YouTube-span het sommer al die video’s reeds gekyk). Maar is al die boeke reeds gelees? ‘n Paar onderwysers het ingestem om hul gunstelingboeke met ons te deel om DF-leerders uit die “moeras van onkunde” (volgens meneer Visser) te help.

Houd-den-bek deur André P. Brink neem jou terug na slawerny in 1825 Suid-Afrika – Die “Galant” of “Bokkeveld”-opstand.

“Die interessantste ding wat ek al in my dag des lewens gelees het,” sê meneer Visser tydens ‘n Teams-vergadering.

Galant en Nicolaas het as kinders saamgespeel, maar is nou slaaf en baas. Die verhaal word deur dertig verskillende stemme in vier dele vertel met Galant, ‘n leier, ‘n slaaf op soek na vryheid, as die hoofstem. Hierdie roman is op die ware verhaal van die Galant Opstand gebaseer en word as “miskien die grootste voorstelling van slawerny wat ooit geskryf is” bestempel.

Ten spyte van haar bekende klasversierings, is juffrou Groenwald se gunstelingboek nie Twilight of The Maze Runner nie, maar ‘n kreatiewe, buite-die-boks fantasie trilogie: His Dark Materials deur Philip Pullman. Hierdie boeiende reeks vertel ‘n storie oor 12-jarige Lyra en Will wat hekse, bere, gevalle engele en spoke tydens hul opwindende avonture deur parallelle heelalle ontmoet.

“Ek sou nie omgee as ek nou na ‘n ander heelal sonder Covid-19 kon gaan nie!” vertel juffrou Groenewald.

Verder op die fantasie-bootjie, deel meneer Dippenaar dat sy gunstelingboeke ‘n alom bekende, geliefde reeks is: The Chronicles of Narnia, deur C.S. Lewis. Dit handel oor kinders wat deur ‘n hangkas na die fantasiekoninkryk van Narnia reis om die geliefde ryk van towerkuns, legendariese wesens en pratende diere teen booshede te beskerm.

“Ek maak asof ek dit vir my kinders lees, maar eintlik geniet ek dit só baie dat ek self vooruit lees,” erken meneer Dippenaar laggend. “Dit is simbolies verskriklik diep en die waarhede wat daarin opgesluit is, is soos diamante wat in die eenvoudige storie weggesteek is.”

Na lank se dink, sê juffrou Weisse dat sy nie tussen Extremely Loud & Incredibly Close deur Jonathan Safran Foer en The man who fell in love with the moon deur Tom Spanbauer, kan besluit nie. Die eerste boek handel oor ‘n seun wat ‘n sleutel ontdek wat aan sy pa (wat in die 9/11-aanval oorlede is) behoort het. Oskar gaan toe op ‘n soektog na inligting en soek vrede na sy pa se dood. Die tweede boek is ‘n verhaal oor “liefde en verlies” in die Wilde Weste.

“Die karakters is net so eksentriek!” sê juffrou Weisse.

Laastens deel meneer Conradie sy gunstelingboek: The Da Vinci Code deur Dan Brown. Hierdie misterie-fiksie handel oor simboloog Robert Langdon en kriptoloog Sophie Neveu wat ‘n spoor van versteekte leidrade in Leonardo da Vinci se skeppings ontdek.

“Dit is ‘n boek wat jy nie kan neersit nie,” vertel meneer Conradie.

Het jy al een van hierdie gunstelingboeke gelees?

Of het jy dalk ander voorstelle vir ons boekwurms by die Herout om ’n resensie oor te skryf? Stuur vir ons ‘n e-pos by heroutdfm@gmail.com en jou gunstelingboek mag dalk net in ons volgende aanlynweergawe verskyn!

Die skrywer
Danielle Swanepoel
Danielle is mal oor enigiets wetenskap by die skool en versamel insek- en plantstukkies in voorwerpglasies. Hierdie stokperdjie kom al van graadsewe af saam met haar.
Ander artikels