Julie 2020

Spoeg (alles klink dieselfde) wolf!

Het jy al ooit na jou gunsteling Spoegwolfalbum geluister en gedink: Alles klink presies dieselfde! Wel, ek kan jou verseker dat jy inderdaad nie verkeerd gehoor het nie.

(Net ’n waarskuwing aan al die die hard Spoegwolf-aanhangers wat gereedmaak om hulle haatgevoelens teenoor my in ‘n e-pos uit te druk: ek probeer nie iets wegvat van Spoegwolf se sukses nie; inteendeel is ek ook een van die mense wat meer as gereeld na hulle musiek luister. Hierdie artikel poog slegs om hierdie waarneming te analiseer).

Spoegwolf, nes menige ander topkunstenaars, maak gebruik van die berugte: I, IV, V, vi akkoorde in die majeur toonsoort - gewoonlik C-majeur in Spoegwolf se geval.

Vir dié van julle wat nie die grendeltydperk gebruik het om jou musiekteorie kennis op te skerp nie, hier is wat die terme waarna ek later in die artikel sal verwys, beteken, ietwat vereenvoudig:

’n Toonsoort beskryf die note wat sal voorkom in ’n komposisie, byvoorbeeld in C-Majeur sal jy C, D, E, F, G, A, B en dan weer C kry. Daar is 7 note in ’n spesifieke toonsoort waarna dit dan op die 8ste noot sal herhaal. Majeur in eenvoudige terme verwys na ’n toonsoort wat gelukkig klink, terwyl Mineur verwys na ’n toonsoort wat hartseer klink. Die Romeinse syfers, soos I, IV ensovoorts, verwys na die akkoorde in die toonsoort. As jy verwys na die C-Majeur toonsoort sal die I akkoord ’n C-Majeur akkoord wees, aangesien dit die eerste grondnoot is wat voorkom in die C-Majeur toonsoort. Die IV (4de) akkoord sal ’n F-Majeur akkoord wees en V sal G-Majeur wees. vi sal egter A-Mineur wees, aangesien die sesde akkoord ’n mineur akkoord sal wees volgens die toonsoort.

Spoegwolf maak gebruik van die I, IV, V, vi akkoord progressie (in verskillende volgordes) in 15 uit die 16 liedjies op hulle nuutste album, See (die ander liedjie is slegs ’n gedig sonder ’n melodie, alhoewel die agtergrondmusiek steeds tot ’n mate hierdie progressie volg). Spoegwolf is egter nie alleen skuldig dat hulle hierdie progressie gebruik nie. Ander kunstenaars soos blink-182, One Direction en The Beatles (om slegs ’n druppel in die emmer te noem) het dit ook in hulle treffers gebruik.

Die vraag is natuurlik: hoekom? Wat maak hierdie akkoorde uitsonderlik?

Daar is nie ’n wetenskaplike verklaring vir hierdie verskynsel nie, maar statisties gesproke is liedjies hiermee baie meer geneig om treffers boaan musiekranglyste te word. Verskeie groot platemaatskappe het selfs beleide wat voorskryf dat hulle slegs musiek vrystel wat hierdie vier akkoorde in ’n majeur toonsoort gebruik - juis omdat dit statisties soveel meer inkomste vir die maatskappye genereer.

Kunstenaar, musiekvervaardiger en YouTuber met sowat 1,5 miljoen intekenaars, Rick Beato, beskryf hierdie 4 akkoorde as “die vier akkoorde wat moderne popmusiek doodgemaak het” omdat dit só baie gebruik word in die moderne era.

Spoegwolf neem egter hierdie konsep na nuwe hoogtes. Buiten dat Spoegwolf hierdie progressie herhaaldelik gebruik, gebruik hulle ook van hulle lirieke ook in verskeie liedjies (luister gerus na Lenie Blou, Lenie Blou II en Lenie Blou III). Spoegwolf gebruik ook dieselfde melodieë in verskillende liedjies, byvoorbeeld in Vensters 2012 en in Om beter te voel. Verder begin hulle album, See, ook met die woorde “Ek dink ek hoor blink-182” en sommige van die liedjies vloei soomloos oor na die volgende liedjie op die album.

So ja, jy het reg gehoor: alles klink dieselfde.

Maar daar is egter iets hiervoor te sê.

Nie net verleen dit ’n absolute onvergelykbare kontinuïteitselement tot elke Spoegwolf album nie, maar dit dra geweldige sterk emosie aan die luisteraar oor wat deur die album vloei en siklies aan die einde terug na die begin geneem word met die woorde “Ek dink ek hoor blink-182” (op die album See). Spoegwolf se albums is soniese goud vir jou ore en die diep woorde, sikliese bindingselemente soos liriese en klankmotiewe, gepaardgaande met die I, IV, V en VI akkoorde en liedjies wat soomloos verbind is, sorg vir iets wat grens aan ’n meesterstuk.

Luister na See op:

Ander artikels