Julie 2020
Foto: @TheBostonBoardRoom op Facebook

Spaar geld deur plaaslike ondernemings te ondersteun

Eksamentyd. Net na Rek, vraestel 2. Jy luister na mnr. Jordaan se afkondingings, terwyl jy jou liniaal op jou potlood balanseer. Dit is al wat gebalanseer het in die afgelope twee ure...

Ons almal ken daardie gevoel. Dit is tyd vir ’n warm koppie Boston Coffee-koffie. Of ’n warm sjokolade. Of ’n chai latte. Of daardie eensoortige “melktert”-drankie.

Hulle het ons ondersteun deur donker tye. Nou is dit ons beurt.

Klein besighede soos die Boston Board Room en Boston Coffee (twee verskillende besighede - ja ek was ook deurmekaar) vorm ’n unieke deel van ons plaaslike gemeenskap.

Ja, KFC, MacDonald’s en Seattle proe definitief lekker, maar daar is iets spesiaal aan daai nêrens-anders-as-hier-nie smaak. Niemand in Amerika weet hoe proe ’n Boston Flat White op ’n lomerige, sonnige Vrydag-pouse met Dfm Radio in die agtergrond nie.

Klein, onafhanklike ondernemings is ’n onweerspreekbare deel van ons plaaslike kultuur, maar ongelukkig is hulle ook die mees waarskynlik om ernstig deur COVID-19 benadeel te word. Kleiner ondernemings het dikwels nie dieselfde opgeboude kapitaalreserwes as groter kettingwinkels nie en indien hulle inkomste vir te lank opdroog, kan dit tot ernstige finansiële skade lei.

Die hartseer waarheid is dat talle besighede in die grendeltyd hulle deure gesluit het.

Ons kan egter help om verdere verliese te voorkom. Teen hierdie tyd is daar al ’n paar maniere om plaaslike besighede te ondersteun. Boston Board Room se Zapper-geskenkbewyse is nie net goed vir hulle nie, maar jy kry sommer ook afslag!

As jy hou van nou koopbewyse koop om later afslag te kry, sal jy definitief hou van saysiyabonga.co.za. Hierdie webwerf is ’n versameling van verskillende promosies wat help om plaaslike besighede aan die lewe te hou. Deur nou by hulle te koop, verseker ons dat hulle ’n kontant invloei het tydens die grendeltyd en help ons om hulle boeke te balanseer.

En dis nie net voordelig vir besighede nie, want wanneer jy weer op straat is, kan jy jou koopbewyse gebruik om al jou gunsteling plaaslike goedere te koop. En boonop teen ’n afslag!

Voordele:

  • Plaaslike onderneming word ondersteun.
  • Jy spaar geld.

Nadele: geen!

So, waarvoor wag jy? saysiyabonga.co.za

Die verslapping van maatreëls na vlak drie verlig die druk op baie besighede. Volgens Boston Board Room se Facebook is hulle besig om takeaways te bedien in ‘n fietswinkel.

Nou, ek sê nie dat jy uit jou pad moet gaan om ‘n koppie boeretroos te kry nie, maar as jy dringend nodig het om ‘n bergfiets te koop….maak gerus ‘n draai!

Ander artikels