Julie 2020
Foto: Unsplash

So, wil jy ’n biljoenêr wees?

Voordat jy begin lees, neem jou selfoon en besoek www.live-counter.com. Hier kan jy uitvind hoeveel geld Bill Gates per minuut maak. In die tyd wat dit vir jou neem om van jou kamer na jou kombuis te stap om jou 20ste peuselhappie vir die dag af te sluk, het Bill Gates R460 000 gemaak.

Gaan nou na www.neal.fun toe. Hier kan jy (virtueel) Bill Gates se geld spandeer en vir jou 45 biljoen Big Macs koop (neem in ag dat daar ongeveer 8 biljoen mense in die hele wêreld is).

Dit klink alles so onregverdig, is dit nie? Hoekom moet ons ons hande vuil maak met skottelgoed was en twee weke se wiskunde opvang, terwyl Bill Gates net sy vingers kan klap en onmiddellik sy hartsbegeertes kry? En Bill Gates is nie eers die rykste persoon ter wêreld nie! Jeff Bezos, CEO van Amazon, is.

Indien al die miljardêrs en multi-miljoenêrs van die wêreld saamstaan, kan hulle tot 20 jaar koop om klimaatsverandering aan te spreek! Om nie eers te praat van die globale armoede wat opgelos kan word met daardie geld nie! Hulle kan selfs die wêreldwye-inenting teen Covid-19 ontwikkel en produseer!

Die ergste hiervan is dat al hierdie skatryk persone nie eers belasting op hulle salarisse betaal nie! Jeff Bezos se tuiniers en huishulpe dra meer by tot Amerika se ekonomie as die rykste persoon van dieselfde land!

Is dit egter ’n inherente morele verpligting vir miljardêrs om hul geld met die wêreld te deel? Hulle het tog jare en jare daaraan gewy om hulle besighede op te bou en ontwikkel en geld te maak, en hulle harde werk moet tog beloon word.

Die antwoord hierop is dat geen persoon so (stink)ryk soos Jeff Bezos word sonder dat iemand in die proses benadeel word nie.

Ek is nie op die uitputtende werk by Amazon voorberei nie... die stres om konstant teen die produtiwiteitstandaarde van ‘n robot gehou te word, was erger as die fisieke stres... elke ding wat ek gedoen het, is gemonitor en die tyd wat dit geneem het om die taak te voltooi is opgeneem... by die pakhuis het ons slegsn 18-minuut pouse per skof gehad – myne was van 06:30-18:00 ...”

- Emily Guendelsberger

En natuurlik kan ons die maklike uitweg gebruik en sê, “Nie ALLE besighede benadeel hulle werkers nie!” Verander dit egter die feit dat daar wel besighede is wat hulle werkers in hierdie werksomstandighede plaas? Nee. Die probleem met kapitalisme is dat dit geleentheid gee aan die verkeerde mense om onnatuurlike mag te bekom, ten koste van ander. Hulle gebruik nie eers hierdie mag om ander te help nie. Natuurlik moet harde werk beloon word, maar niemand is veronderstel om 45 biljoen Big Macs te kan eet wanneer die res van die wêreld van die honger sterf nie.

Die skrywer
Cara Reyneke
Cara se drama prakties is nooit betyds klaar nie. Sy spandeer te veel tyd op Pinterest en in haar eie woorde is sy “byna definitief korter as jy!”.
Ander artikels