Julie 2020
Foto: Unsplash

Shakespeare: ’n weerkaatsing

Die mens is van nature lief vir stories. Dit is waarop ons wêrelduitkyk gebaseer is.

Die digter, Muriel Rukeyser, het gesê: “Die heelal bestaan uit stories, nie atome nie.” Sy is halfpad reg, maar kom ons gaan terug – voor skeinatklasse, John Dalton en Muriel Rukeyser – na die tyd van die pappa van stories: Willem Wikkelspies.

(Ek bedoel William Shakespeare.)

Shakespeare was ’n digter en dramaturg in die Renaissance en ons behandel vandag nog sy werk in die skoolbanke. Jy wonder dalk: “Hoekom leer ons oor eeue-oue literatuur, as Engels intussen so baie verander het?” Wel, Shakespeare se taalgebruik staan as “Vroeë Moderne Engels” bekend. As ’n mens die taal in sy toneelstukke met vandag se gesprekke vergelyk, sal ’n mens die verband tussen hedendaagse en Shakespeareaanse Engels sien. Ja, sommige woorde gebruik ons glad nie meer nie en ja, die grammatika het effens verander, maar as jy vandag met ’n tydmasjien na Engeland in Shakespeare se tyd sou terugreis, sou jy ’n heel gemaklike gesprek met daardie mense kon voer.

“Maar wat van thee en thou?” Dit is nie so ingewikkeld soos wat jy dink nie…

'n Gids

Thee: voorwerp
Thou: onderwerp
Thy: jou (jou boek)
Thine: joune (die boek is joune)
Ye: meervoud van thou (en 'n meme)

Thou is eintlik die informele manier om iemand aan te spreek. You is formeel. Dit maak sin. Duits het du en Sie. Frans het vous en tu. Engels het you en thou (gehad). Teen die laat 17de eeu, het dit vreeslik ongeskik geraak om thou te gebruik. Indien geskiedenis anders uitgedraai het, het ons dalk vandag nog thou gesê.

Boonop het verassend baie spreekwoorde en gesegdes hul oorsprong in Shakespeare se werke: It is Greek to me; vanished into thin air; budge an inch; tongue tied; playing fast and lose; hoodwinked; in a pickle; fair play; not slept a wink; too much of a good thing; seen better days; high time; the game is up (or afoot); lie low; heart of gold; wild goose chase; good riddance; laughing stock; break the ice; so-so; all’s well that ends well; etc. ensovoorts

Sy invloed is oral.

Maar, dit is egter nie net wydverspreid nie, dit is oral relevant, aldus oud-Engelse onderwyser by DF, me. van Aardt. Sy stel dit so: “Shakespeare se dramas is ’n spieël vir die mens se fundamentele natuur. Deur die studie van sy dramas, word jy ’n kykie in die psige van allerhande karakters gegee. Jy herken elemente daarvan in die mense om jou… Dit is wat letterkunde moet doen: jou opskerp oor verhoudings in die samelewing.”

Ons vergeet soms dat Shakespeare nie gewens het dat skoolkinders sy dramas moes lees nie. Hy wou dit op die verhoog vir ons wys. “Shakespeare self sou seker nooit droom dat sy werk só geanaliseer word nie. Hoofsaaklik was die doel van die dramas om mense te vermaak.”

Hy was in essensie ’n storieverteller. Literatuur is, na alles, slegs die storie van die mensdom. Dit is soos die spreekwoord lui: “Al my stories is waar. Party het gebeur en party nie, maar hulle is almal waar.”

Met universele temas vertel Shakespeare die storie van die mens se geaardheid. Daarom is sy werke (tussen al die thees en thous) tydloos en op almal van toepassing.

Die skrywer
Emma Olivier
Miskien ken jy vir Emma weens haar “resting worried face”, of dalk haar vele talente! Emma geniet lees, skryf, fotografie, goue-era bioskoopprente, Donovan en die Beatles. Sy is ’n taal- en geskiedenisliefhebber, maar mis haar kleuterdae.
Ander artikels