Julie 2020

Selfdoen-projek vir onder R100.

’n Bekende kunstenaar, Trevor Paglen, het gesê: “Kuns is ’n manier om dinge te probeer sien wat ander mense nie sien nie.” Baie mense kyk na ’n sneesdoekie, oftewel ’n tissue, en identifiseer dit as ’n item wat jy gebruik om trane af te vee as jy gehuil het of om iets op te vee as jy gemors het. Het jy al ooit gedink dat ’n sneesdoekie in ’n meesterstuk kan verander wat ‘n bietjie kleur kan gee en jou huis kan opkikker?

Hieronder is ’n foto van ’n angelier. Jou sneesdoekieblom gaan baie soortgelyk lyk en die voordeel is: jy hoef hom nie water te gee nie!

Benodighede

  • ’n Sneesdoekie (kan normale sneesdoekie wees of sneespapier).
  • ’n Dun draadjie of vislyn, om die sneesdoekie in die middel stewig vas te hou.
  • ’n Skêr.
  • ’n Gekleurde koki as jy kleurvolle blomme wil maak.

Stap 1

Vou die sneesdoekie in die helfte. Draai hom na sy breedte en begin dit soos ’n konsertina in sy breedte af vou. Vou dit in en draai dan die sneesdoekie om en vou dit aan die ander kant weer in. Herhaal dit tot die einde sodat dit soos ’n konsertina lyk.

Stap 2

Vat die dun draad en maak die sneesdoekie in die middel vas sodat hy altwee kante stewig sal vashou.

Stap 3

Maak ’n merk op altwee punte met die koki as ’n riglyn waar jy die kante gaan knip.

Stap 4

Knip die kante eweredig waar jy die merk gemaak het.

Stap 5

Kleur die punte nog meer in met ’n koki van die kleur van jou keuse op die punte van die sneesdoekie (dit gaan later die buite rand van die blom wees en die meeste kleur gee, so maak seker jy kleur die punte sorgvuldig in). Haal die sneesdoekie bietjie van mekaar af om makliker in die middel in te kleur.

Stap 6

Gaan terug na die begin van die blom en soek die plek waar die lae van die sneesdoekie aan mekaar vas is en begin om die lae versigtig van mekaar af trek sodat jy nie sneesdoekie skeur nie.

Stap 7

Maak seker dat jy al die lae sorgvuldig afgetrek het en spasieer die lae sodat dit meer die vorm van ’n blom begin aanneem.

Gebruike

  • Maak meer as een blom en sit dit in ’n blompot om die huis ‘n bietjie in te kleur.
  • Maak die draadjie aan ’n haarknippie vas en gebruik dit as haarbykomstighede.
  • Jy kan dit selfs aan jou skoenveters vasmaak en op jou skoen dra!
  • Jy kan van jou reukmiddel op die blom spuit en vir ’n geliefde of ’n vriend as geskenk gee om aan jou te dink as hulle dit ruik.
  • Jou ouma en oupa sal die klein geskenkie geniet!

Gee jou verbeelding vrye teuels en gebruik selfs verskillende kleure sneesdoekies in plaas van om die randjies in te kleur met die koki. Dit spaar baie moeite en lyk net so kleurvol, maar die koki is ’n goeie bron van kleur as jy net wit sneesdoekies tot jou beskikking het.

Die skrywer
Janike Smith
Janike se gunstelingvakke is rekeningkunde en Duits. Sy is mal oor natuurfotografie en het hoenders as troeteldiere.
Ander artikels