Julie 2020
Foto: Karl Voigt

Om stil te word

Beste Leser

Vanmiddag, voordat ek hierdie artikel neergepen het, het ek vir die eerste keer opgemerk hoe ‘n sekere struik in ons tuin se blare werklik fluister wanneer dit teen mekaar ritsel. Dit was merkwaardig.

Hoekom, vra jy?

Die afgelope twee maande het ek ‘n punt daarvan gemaak om my daaglikse koffie op die stoep te gaan drink. My nuwe oase.

Op Dag 1 van die Grendeltydperk het ek ‘n piekniekkombers uitgegooi en die stilte het my oorweldig. Ek kon nie die hoofweg hoor nie. Ek kon nie enigiemand in ons buurt hoor nie. My wêreld het gaan stilstaan. Daar was voëls, daar was son en daar was stilte. Ek was bang. Bang vir die onsekerheid van die tyd wat voorgelê het en heeltemal naïef vir presies hoe absoluut anders dit sou wees.

Vandag is dit al meer as 100 dae sedert die inperking begin het. Vandag was die stilte gerusstellend. Die wete dat (al kon ek nou die hoofweg elke nou en dan hoor) die voëls altyd sal bly sing, maak nie saak hoeveel konflik en vrae en veranderlikes net om ons ophoop nie.

Indien niks anders nie, is die silwer randjie om my wolk (wat se donkerte, ek weet, nie naastenby met baie van my landgenote kan vergelyk nie) dat ek stil kan word. Ek kan vir die eerste keer in my lewe gemaklik wees met die feit dat ek niks het om te bewys nie. Die feit dat ek niks kan bewys nie.

En dis ook reg. Want die Rots het nie ‘n sterk ekonomie nodig om standvastig te bly nie. Die voëls kla nie saam met die DA nie en die son vra nie die ANC se toestemming om te skyn nie.

Ja, die ongelykheid in ons samelewing staan soos ‘n swerende etter uit en die vrae hoop op. Ek raak briesend oor polisiegeweld in Amerika en die weermag in Suid-Afrika en ek voel magteloos om meer as ‘n Tweet te plaas en op te lees en te huil en te leer.

En vas te klou aan die wete dat daar niks nuuts onder die son is nie. Rooirose is dalk weg, maar rooi rose nie.

Hierdie aaklige dinge sal ook verbygaan, al is ons hulp nodig; al moet ons saam opstaan en veg.

So, geliefde leser, kyk op na die berge van vrae en seer om jou. Probeer om nie toe te laat dat hulle skaduwees jou sonskyn steel nie, maar selfs al doen hulle, weet dat hulle mettertyd ook in die see gewerp sal word. Hierdie uitgawe is spesifiek daarop gemik om sin te maak van die berge en om bietjie sin te maak van jouself - of dit nou e-leer, koekbak of die gewoontes van rotte is. Ek is baie trots op my span wat hierdie laat gebeur het en ek hoop julle geniet dit.

Skep moed. Intussen sal ek stil word op die stoep en aan julle dink.

Met hoopvolle DF-groete

- Ila

Die skrywer
Ila Alberts
Ila is mal oor politieke grappe, Lachgummi’s en om vinnig klas toe te stap. Wanneer sy nie besig is om spelfoute vir die Herout reg te maak nie (wat sy baie geniet), kyk sy naaldwerkvideo’s op YouTube, lees nuus op Twitter en filosofeer oor oplossings vir sosiale en politieke ongeregtigheid in Suid-Afrika.
Ander artikels