Julie 2020
Foto: Bianca Stander

’n Brief van die Hoofleiers

DF.

Julle gesigte in die gange. Julle opwinding voor interskole. Julle energie op die Groenpunt pawiljoen. Dít is die kosbare dinge wat die skool lewendig maak; die blou bloed wat DF se hart laat klop. Dis die dinge wat skool, skóól maak. En ons mis dit.

As hoofleiers van 2020, deel ons julle teleurstelling. Net soos julle, het ons ook die jaar met visie en opwinding aangepak. Min het ons geweet dat die gesegde “jou lewe kan oornag verander” ironies genoeg oornag ’n realiteit sou word.

Daar is min dinge so frustrerend soos ’n hele jaar se planne en doelwitte wat skielik in vrae verander. En ons is seker julle almal het al ’n ewigheid van onsekerheid in die laaste twee maande beleef. Wat gaan gekanselleer word? Wat gaan steeds voortgaan? Wanneer keer ons terug na “normaal”?

Wat is die punt? Wat bly oor?

Ons wil julle graag herinner aan dit wat ons wel weet en aan dit wat ons wel het. Uit al die jaargroepe wat al deur die skool gestap het en al die jaargroepe wat nog gaan, is ONS die enigstes wat hierdie wêreldwye geskiedkundige gebeurtenis eerstehands beleef. Van graad 8 tot matriek – elkeen van julle gaan ’n unieke storie hê om te vertel. ’n Storie wat vir die res van jou lewe by jou gaan bly. Die storie van hoe JY ’n sukses van hierdie omstandighede gemaak het.

Al is hierdie storie nie jou gunsteling-genre nie.

2020 mag dalk in geen opsig die jaar wees wat enige van ons beplan het nie, maar dit sal beslis die een wees wat ons onthou. En ons kan julle belowe dat nie alles verlore is nie. Daar word baie moeite gedoen om steeds kontak met julle almal te hou op aanlynplatforms. So ons vra dat julle asseblief die beste daarvan sal maak. Neem deel waar jy kan, geniet dit wat jy sien en weet net dat elkeen van jul glimlagte ook een op ons gesigte sit.

Matrieks: dit is vir ons ’n absolute vreugde om weer julle gesigte (of liewer, julle oë) te kan sien. Baggies: ons belowe dat DF gewoonlik lekkerder is as tans. Julle sal nog sien. Julle gaan nog so baie sien.

Om af te sluit -ons wag vir julle om terug te kom, DF. Ons wag vir die volgende keer wat ons weer die skoollied by interskole kan sing. Ons wag vir die volgende keer wat ons weer die MTBS-beker kan vashou.

Wanneer dit ook mag wees. Al mag ons dalk nie meer daar wees nie. Onthou dat die seer van vandag nie môre se vreugde kan steel nie.

Byt vas DF. Ons mis julle.

Julle hoofleiers.

Neal en Ila

Ander artikels