Julie 2020
Foto: Bianca Stander

Maklike winterkos in ’n koppie beter as piesangbrood

Baie van ons het in die grendeltyd ons innerlike Nigellas en Jamie Olivers ontdek, want wat is lekkerder as om ’n blaaskans van tuisakademie te neem deur ’n troosdissie aanmekaar te slaan?

Hier is vier beproefde blitsresepte vir Dee-Effers wat al ’n mikrogolf bemeester het:

Eier en tortilla ontbyt-koppie vir “register”

Vorm ’n klein tortilla-pakkie binne-in ’n vlak bakkie of koppie. Klits twee eiers saam en gooi binne-in die tortilla. Voeg jou keuse van bestanddele by: ham, spekstukkies, sampioene, ertjies, boontjies, tamatie en kaas. Geur die eiermengsel met sout en peper en sit dit in die mikrogolfoond vir ongeveer 2 minute totdat dit gestol het en die kaas gesmelt is.

Eerste pouse Nutella Koppiekoek

Meng twee eetlepels koekmeel, een eetlepel suiker, een eetlepel kakaopoeier, ’n kwart teelepel bakpoeier, een eetlepel sonneblom- of canola olie en drie eetlepels melk goed met ’n vurk in ’n koffiebeker. Skep ’n lepel vol Nutella in die deegmengsel en plaas dit vir ’n minuut lank in ’n mikrogolfoond op vol sterkte.

Sin-cos-tan Macaroni en Kaas-koppie

Sit ’n derde koppie droë pasta en ’n driekwart koppie koue water saam in ’n koffiebeker en plaas dit in die mikrogolfoond dit vir ongeveer 3 minute, of totdat die pasta gaar is. Skink die oortollige water uit en voeg vier eetlepels melk, ’n kwart teelepel Maizena-mieliemeel en vier eetlepels gerasperde kaas, sout en peper by. Kook dit in die mikrogolfoond totdat dit borrel en die kaas gesmelt is.

Wassebad vir ’n enkeling sjokoladesplinterkoekie

Smelt 1 eetlepel botter in die mikrogolfoond. Roer 1 eetlepel witsuiker, 1 eetlepel bruinsuiker, 3 druppels vanilla ekstrak en ’n knippie sout by. Skei een eier en roer net die eiergeel by. Voeg ’n kwart koppie koekmeel by en roer goed. Roer twee opgehoopte eetlepels sjokolade-splinters liggies by die mengsel en strooi ‘n paar bo-op die mengsel voordat jy dit vir 40 tot 60 sekondes lank in die mikrogolfoond sit (niks langer as een minuut nie). Laat dit effens afkoel en geniet!

Vir nog eenkoppie-idees, besoek biggerbolderbaking.com of brit.co blog.

Ander artikels