Julie 2020
Foto: Verkry deur Axel Von Loggenburg van Unsplash

Jy kan wetenskaplikes help met COVID-19 navorsing!

Oftewel, jou rekenaar kan.

Wetenskaplikes regoor die wêreld dra by tot die mensdom se gedeelde kennis rakende COVID-19. Talle hoogsgeleerde mense span hulle vaardighede in om ’n oplossing te vind. Kyk na die duisende navorsers wat deurnag werk om ’n entstof te ontwikkel. Of die oopbron-masjienleerdatastel op Kaggle.com wat ondersteun word deur honderde datawetenskaplikes en die Withuis self.

In vergelyking met hierdie hoogsgeleerde leiers van die wetenskaplike wêreld lyk ons almal meer soos ’n Morty as ’n Rick. En tensy jy ’n graad in epidemologie het, gaan jy dalk nie veel kan bydra tot die groeiende liggaam COVID-kennis nie.

Jy besit egter ’n waardevolle hulpbron: verwerkingskrag!

Om virusse op ’n mikrobiologiese vlak te verstaan, skep wetenskaplikes dikwels massiewe, hoogs komplekse simulasies van proteïene en hulle reaksies. Hierdie reaksies het spesifiek te doen met hoe proteïene om ’n mikroskopiese vlak “vou”. Hierdie simulasies het dikwels kragtige rekenaars nodig en selfs dan is dit nie ongewoon vir die simulasies om dae te neem voor hulle klaar uitgewerk is nie!

Maar, dink jy, as massiewe superrekenaars dae neem om hierdie simulasies te skep, wat presies kan my arme skootrekenaar wat lag as ek te veel tabs op Google Chrome oopmaak nou eintlik doen?

Eerstens, as jy die Google Chrome situasie het, moet jy miskien check vir malware. (Dit was my probleem.)

Tweedens, meer as wat jy dink! Verbeel jouself: wat as ons al die verwerkingskrag van die hele wêreld saamgespan het om een groot rekenaar te vorm? Honderde duisende klein rekenaars/skootrekenaars (net soos joune!) saamgevoeg tot een groter geheel? En dan gebruik ons dit om proteïen vou simulasies te doen sommer van jou huis af?

Dis ‘n realiteit met folding@home!

Folding@Home laat jou toe om ’n deel van jou rekenaar se verwerkingskrag af te staan om oor die internet te help om navorsing simulasies en data te prosseseer. Om hulle amptelike webwerf aan te haal:

While you keep going with your everyday activities, your computer will be working to help us find cures for diseases like cancer, ALS, Parkinson’s, Huntington’s, Influenza and many others. We are working like mad to start simulations of COVID-19 proteins. The enthusiastic response to our effort has been tremendous and has sometimes emptied our queues.”

Ek is self nie seker presies hoe ‘n proteïen kan “vou” nie (ongelukkig strek my graad 9- biologiekennis nie so ver nie).

Hier is wat jy hoef te weet:

  • Hulle stuur vir jou rekenaar die data wat verwerk moet word.
  • Jou rekenaar voer dit uit in die agtergrond.
  • Al wat jy hoef te doen is om die nodige sagteware vanaf https://foldingathome.org/start-folding/ af te laai en dit te run.

Jy kan self kies hoeveel van jou CPU gebruik word en jy kan dit enige tyd stop. Jou rekenaar sal nou wel miskien ’n bietjie stadiger wees, maar kyk na die groter prentjie - jou stowwerige ou laptop uit 2015 vol vingermerke en krummels in die sleutelbord kan help om ’n wetenskaplike deurbraak te fasiliteer!

As jongmense in 2020 is daar nie veel wat ons kan doen om COVID te beveg op ’n navorsingsvlak nie. Ons kan slegs ons vertroue plaas in die hoogs bekwame mans en vrouens wat dag en nag werk om ’n oplossing te vind.

Hierdie is egter een manier om ‘n klein bydrae te maak. So...

Start Folding Today

https://foldingathome.org/start-folding/

Ander artikels