Julie 2020
Foto: Bianca Stander

Verveeld? Hoe ander Dee-Effers hulself tydens die grendteltydperk besig hou

Die grendeltydperk het vele voor- en nadele, maar een van die voorste voordele is beslis die groot T-woord: tyd.

Die vraag is egter: hoe bestee Dee-Effers hul kosbare tyd? Gebruik hulle dit om agterstallige werk in te haal? Te lees? Of leer hulle ’n nuwe taal aan sodat hulle die wêreld met ’n nuwe talent na die grendeltydperk in die gesig kan staar?

Die Herout het leerders gevra hoeveel ure hulle daagliks aanlyn spandeer. ’n Gemiddeld van 8 uur en 40 minute is aangeteken. Daar word onder andere 2 uur en 50 minute op sosiale media platforms en 50 minute vir die luister van musiek gebruik. Verder word omtrent 2 ure afgestaan aan die kyk van televisie, 1 uur en 40 min aan die gebruik van ’n rekenaar (hopelike op Teams!) en 1 uur om te lees.

Met toeps soos Instagram, Youtube, Pinterest en die nuutste lid van die familie – Tiktok aan die punte van hul vingers, wie kan leerders kwalik neem?

Leerders wat besig is om hul multitalige vaardighede te verbeter, bestaan wel. Hierdie groepie leerders het afsonderlik onder andere Nederlands, Duits, Japanees en ’n koderingstaal, Python, bestudeer.

Charles Neser in Graad 11 is ook besig om iets interessant met sy tyd te doen. Hy sê: “Ek is tans besig om navorsing oor aanlynbemarking te doen. Ek beplan om ook my eie produk binnekort te bemark. Ek adverteer egter nou ander mense se produkte om daardeur kommissie te verdien.”

Verder is leerders besig om te oefen of soetgoed, waarvan piesangbrood ’n groot treffer is, te bak.

Daar is nog tweehonderd-en-twintig (op 25 Mei) dae van die jaar 2020 oor. Lees ’n boek of leer ’n nuwe taal aan, maar gebruik dit na die beste van jou vermoë.

Die skrywer
Anja Nel
Anja se gunstelingvakke is kuns en biologie. Wanneer sy nie besig is om te sing of tennis te speel nie, is sy waarskynlik besig om ‘n (goeie) film te kyk. Verras haar gerus met ‘n interessante feit in die gang.
Ander artikels