Julie 2020
Foto: Emma Olivier

E-leer en die realiteite van Teams

Toe die skole op die 18de Maart gesluit het, het niemand presies geweet wat die toekoms rakende opvoeding vir die volgende paar maande sou inhou nie. Selfs nou, twee en ’n half maande later, is daar steeds onsekerheid oor wanneer ons weer by ’n skoolbank gaan kan sit en luister hoe ons onderwysers probeer om die konsepte van trigonometrie, Shakespeare en tydsbestuur aan ons moeë breine te verduidelik.

Die coronavirus is ’n wêreldwye probleem, wat beteken dat lande regoor die wêreld moes planne maak oor hoe om leer steeds te laat geskied ten spyte van die verskeie inperkings wat ingestel is. Lande soos Denemarke, Switserland en Australië het begin om skole te heropen met streng maatreëls, soos kleiner klasse, gereelde handewas, maskers en selfs die gebruik van plastiekskerms tussen skoolbanke. Dit is egter duidelik dat dinge nie gou weer na normaal gaan terugkeer nie en dat ons van e-onderrig afhanklik gaan wees vir die afsienbare toekoms.

So, wat het verskillende lande gedoen om e-onderrig te bewerkstellig?

  • Radio- en televisie-uitsendings van opvoedkundige materiaal word uitgesaai (in o.a. Argentinië, Oostenryk, Kenia en Suid-Afrika).
  • Webblaaie met opvoedkundige materiaal wat gratis gebruik kan word, is geskep (in o.a. Italië, Suid-Korea en Suid-Afrika).
  • Regerings het Youtube-kanale geskep waarop materiaal bereik kan word soos wat leerders dit soek (in o.a. Brasilië en Madagaskar)
  • China het internettoegang tot areas wat voorheen swak toegang gehad het, verbeter.

Skole wat kan, het op platforms soos Microsoft en Google voortgegaan met tuisonderrig, maar dit is vir baie mense ontoeganklik. Die Coronavirus het die ekonomiese ongelykheid in ons land en in ander, beklemtoon.

Die groot probleem van e-onderrig is dat baie leerders nie die data of toestelle het om kontak met onderwysers te maak nie en moet gevolglik self moeilike konsepte probeer uitpluis. Dít, gepaardgaande met die finansiële stres wat baie huishoudings ervaar weens die inperking, skep ’n baie moeilike leeromgewing. Die stappe wat ons regering en regerings regoor die wêreld geneem het om afstandsonderrig moontlik te maak, help, maar dit vervang nie die kwaliteit onderrig wat ’n leerder in die klaskamer ontvang nie.

Dit blyk duidelik in Suid-Afrika dat die inherente gaping in ons samelewing baie leerders sonder die nodige materiaal om effektief tuisonderrig te doen, los. Die beste oplossing vir die onderwyspenarie is om skole te heropen, maar met die Covid-19-gevalle wat toeneem, raak dit ’n moeilike kwessie.

Daar is egter maniere wat ons ons medeleerders kan help. DF het ’n projek geloods genaamd die Data Drive. Volgens juffrou Sims, wat die Data Drive bestuur, is reeds ongeveer R22000 ingesamel en gebruik om aan sowat 75 Dee-Effers data verskaf. Die Data Drive poog om deurlopend data aan dié te verskaf wat dit nodig het, sodat alle Dee-Effers toegang tot e-onderrig het. Die projek is ’n reusesukses.

So, vir nou, ondersteun ander waar jy kan, en hou jou neus teen jou skerm sodat ons voorbereid is vir wanneer ons weer saam by DF kan wees.

Ander artikels