Julie 2020
Foto: Emma Olivier

Die ongesonde kant van “gesondheid”

Wanneer jy jou foon aanskakel, die nuus kyk of selfs net op sosiale media gaan, word jy onmiddellik gebombardeer met inligting oor ons nuwe vriend, Covid-19. Covid-19 het homself baie vinnig in elke area van ons lewens geïnfiltreer.

Daar is egter ’n deel van ons gesondheid wat Covid beïnvloed waaroor ons nie so baie praat nie: naamlik ons geestesgesondheid.

Op die 5de Maart is die eerste Covid-19 geval in Suid-Afrika bevestig. Skaars 3 weke later is ons hele land onder slot en grendel geplaas. Ons is geïsoleer en moes ons daaglikse roetines drasties aanpas. Meer ernstige gevolge van die grendeltydperk, was dat baie mense nie kon werk nie en gevolglik nie ’n inkomste kon verdien nie.

Dit is dus nie verbasend nie dat ’n studie van die Universiteit van Johannesburg en die Menslike Wetenskaplike Navorsingsraad bevind het dat 60% van Suid-Afrikaners gereeld gestres voel, 46% bang voel en 33% depressief voel gedurende die inperking. Suid-Afrikaners se geestesgesondheid ly, meestal as gevolg van finansiële druk, maar ook omdat ons lewens so skielik verander het en dat ons gespanne voel oor die dreigende gevaar van die virus.

Met die meeste van die wêreld wat in Maart onder inperking geplaas is, het die internet natuurlik daarop gereageer en so is die nuutste aanlyn “trend”, of internetfoefie, gebore: die “lockdown glow-up”. Die idee is om die inperking te gebruik om alles te bereik wat jy al ooit wou, soos jou droomliggaam.

Indien jy ’n Instagram-rekening het, het jy beslis al ’n plasing gesien van iemand se oefenroetine of ’n foto van iemand se gesonde ontbyt-gladdejantjie. Die meeste van ons se “explore”-blaaie is oorlaai met die nuutste oefenroetines, gesonde resepte en wenke wat ons belowe dat dit ons ons droomliggame sal gee.

Alhoewel oefening goed is, is dit ongesond om onnodige en onrealistiese druk op jouself te plaas om ’n sekere manier te lyk net omdat die wêreld sê dit is wat jy nou veronderstel is om te doen. Boonop, belowe baie van die oefenroetines onrealistiese resultate. Om ’n 10 minute maagoefenroetine vir twee weke te volg gaan jou nie “abs” gee nie, al belowe die titel wat. Hierdie onnodige ekstra druk om beter te móét lyk na die inperking wat die internet op ons al klaar brose geestesgesondheid plaas, lei tot baie mense wat depressief voel omdat hulle nie in Instagram se onrealistiese doelwitte slaag nie.

Nog ’n foefie is dié van toksiese produktiwiteit. Baie mense voel dat indien hulle nie na afloop van die grendeltydperk ’n boek geskryf het of ’n nuwe taal geleer het nie, hulle misluk het. Dis egter belangrik om in ag te neem dat rus, veral ten tye van stresvolle tye, van kardinale belang is. Ons is almal net mens en die feit dat ons sukkel, is slegs ’n bewys daarvan dat ons minstens probeer.

Hier volg ’n paar wenke om jouself geestelik gesond te hou:

  • Beperk jou sosiale media verbruik en moenie jouself met ander mense daarop vergelyk nie.
  • Beperk hoe baie jy die nuus kyk of lees.
  • Gee jouself ’n blaaskans wanneer jy dit nodig het. Doen iets ontspannend en lekker.
  • Gaan stap of oefen ’n bietjie. Dit stel endorfiene vry, wat jou goed laat voel (maar moet dit nie oordoen nie).
  • Laastens, reik uit na vriende. Ons vaar almal deur onbekende waters en het mekaar se ondersteuning nodig.

Al lyk dinge tans bleek, onthou net, ons wêreld het al baie oorleef en ons sal ook deur hierdie pandemie kom. Hou net moed, DF.

Ander artikels