Julie 2020
Foto: Unsplash

“Die Meme”

Die meme is ’n eenheid van kulturele waarde wat gedurig verander en oorgedra word van een persoon na ’n ander. Die oorgrote hoeveelheid mense is geneig om te dink aan lae-kwaliteit foto’s met grappige onderskrifte as die oorsprong van die meme. Pepe het egter kompetisie, want die moderne “meme” bestaan al sedert die Tweede Wêreldoorlog. Geallieerde troepe het ’n stokmannetjie met die byskrif “Kilroy was here” oral waar hulle deurbeweeg het, agtergelaat. Die ikoniese frase is selfs aan die ruimtevaarders aan boord van Apollo 8, die eerste bemande ruimtetuig wat om die maan gewentel het, uitgesaai.

Met dit in gedagte, moet jy dalk eerder vir jou oupa/ouma “Thank you, Boomer” in plaas van “OK Boomer” sê. Wie weet waar ons vandag sou gewees het sonder hulle waardevolle bydraes?

Twee generasies later en die “meme” leef sterk voort, selfs waardevoller as vantevore weens die verligting wat dit bied tydens die coronavirusuitbraak.

Let wel asseblief daarop dat hierdie berig geskryf word met die veronderstelling dat April en Mei wel gebeur het, al mag daar dalk geen konkrete bewyse hiervan wees nie. Om die pandemie mee af te skop, is ons geseën met ’n reeks “memes” oor die virus en sy alkoholiese naamgenoot. Daarna is ons almal se harte gebreek deur die verskriklike nuus dat die Opperste Leier Kim Jong Un gesterf het, totdat hy weer lewend geword het en jy gewens het jy het ’n VPN gebruik toe jy hom uitgetart het. Elon Musk se seun, X Æ A-Xii, is gebore (mens spreek dit “X Æ A-Xii” uit nie “X Æ A-Xii” nie). Die kersie op die koek is natuurlik die opkoms van killer hornets in Mei-maand, want Moeder Natuur dink klaarblyklik nie ’n virus is erg genoeg nie…

Sover in 2020 het ons dus amper ’n Derde Wêreldoorlog betree, die helfte van Australië het afgebrand, ’n massiewe pandemie het ons in inperking geplaas, Dlamini-Zuma het oornag die mees gehate persoon in Suid-Afrika geword en Brittanje het die Europese Unie verlaat - en dis nou eers Julie! Gelukkig bied “die meme” in al sy prag en mag vir ons ‘n toevlug in hierdie moeilike tye.

Ander artikels