Julie 2020
Foto: Unsplash

Grendeldagboek: die ironie van rotte - 'n ware verhaal

Voor die grendeltydperk het ek (meestal danksy Hollywood en H.P. Lovecraft) ’n bietjie vir rotte gegril - net ’n klein bietjie.

My neef het sy troetelrot by ons huis afgelaai voor hy vir die langnaweek Johannesburg toe gevlieg het. Hy kon nie die rot op die vliegtuig neem nie. Warfarin (dit is die rot se naam—wreed, maar ironies, aangesien die bloedverdunner dieselfde bestanddele as rotgif bevat) moes dus net vir ’n paar dae lank ons gas wees.

Planne het egter verander.

Die grendeltyd het die rot se besoek verleng.

Ek was eers skepties, maar Warfarin het my aangenaam verras. Leser, jy mag dalk dink: “Wat? Rotte is vieslike, slymerige gruwelgoed! Hulle het die Swart Dood veroorsaak en hulle eet gemors!” Eerstens het rotte nie die Swart Dood veroorsaak nie. Hulle het dit versprei. Tweedens is hulle nie slymerig nie. Die filmindustrie besmeer hulle met jel om hulle meer dreinerig te laat lyk. Derdens eet mense maar ook gemors, stry?

Dit is ironies dat die dier wat op die wreedaardigste maniere uitgebeeld word, die slagoffer van misverstand is. ’n Mens sou dit nie verwag nie. Ek stem saam dat ’n rot (net soos enige ander dier) nie in jou spens of mure hoort nie, maar, net soos enige ander dier, sy plek in die samelewing verdien. Ek het geleer dat rotte fluweelsag is en omgee oor hul persoonlike higiëne: ek het gereeld waargeneem dat Warfarin homself katagtig bad (nóg ironie?). Rotte is ook hoogs intelligente skepsels. ’n Mens kan sê dat hulle die MacGyvers van die dierewêreld is. Teenstrydig met gereelde vooroordeel oor rotte, het hulle ’n liefdevolle, toegeneë geaardheid.

Die rot sou vir ’n week bly. Ek sit ná drie maande steeds met hom opgeskeep. Ek het anderdag in sy rooi kraletjie-oë gekyk en besef dat ek en hy ’n verstandhouding het (al kou hy soms my hare en lek my ore). Hy kan net bly wees hy het weens familiebande ’n plek om te bly: bloed is immers dikker as dreinwater!

Die skrywer
Emma Olivier
Miskien ken jy vir Emma weens haar “resting worried face”, of dalk haar vele talente! Emma geniet lees, skryf, fotografie, goue-era bioskoopprente, Donovan en die Beatles. Sy is ’n taal- en geskiedenisliefhebber, maar mis haar kleuterdae.
Ander artikels